A letter from a mother to her daughter
Missie. My pragtige, dapper kind. Dit is nou al amper vier maande wat jy weg is en steeds het ek nie woorde nie. Lizette moedig my aan om jou storie te skryf. Om ander meisies te inspireer. Ek kan nog nie. Ek is stom. Woorde wil nie vorm nie.
Ses jaar gelede toe daar nie een droeë oog in die kerk was na jou huldeblyk oor ouma-plaas nie, kon ek nie vir ‘n oomblik glo jy is volgende nie. Ons gesinnetjie steier. G’n Missie meer nie. Die son skyn nog elke oggend by jou kamer in, maar ek sien geen beweging meer uit die hoek van my oog nie – soms wil ek glo ek doen. Daar lê nie meer haarknippies deur die huis vir Pappa om geduldig op te tel en in jou kas te sit nie. Dit is nie hoe dit moes wees nie. My kinders moes my lewe opruim en afsluit. My kas leeg maak, my goedjies wegmaak. Nie andersom nie. Met jou verjaarsdag het ek die hele dag gewag vir “Happy anniversary, Moeksie.”
Klein Sofia is kwaad vir die Here. Hy vat “all our good stuff”. Haar bababoetie, die honde en nou haar geliefde Missie. Sy mis jou. Sy huil oor jou. Sy is bang jy het nooit bestaan nie; jy is ‘n mite. Appap troos; hy kyk saam met haar Barbie. In die sitkamer op die bank voor die TV; nie knus in die bed met die popcorn en lekkertjies soos saam met jou nie. Dit is nou haar realiteit. Hoewel, jy het haar blykbaar nou die dag gehelp om ‘n vierblaar klawer te pluk. Het jy? Ek hoop dit was jy. Dit troos.
Stephan kry ook swaar. Die troue sou nou minder as ‘n maand weg wees. Hy sê jy het hom geleer om ‘n man te wees. Hy het uitgesien om getroud te wees. Om na jou om te sien.
Nie een van ons sal ooit weer dieselfde wees nie. Ons probeer net elke dag staande bly. Vir ‘n wyle het dit gelyk Lizette gaan dit nie oorleef nie. ‘n Toekoms sonder jou was nooit ‘n opsie by haar nie. Hoe gaan sy weer ‘n verjaarsdag beplan sonder jou – julle was ‘n wenspan. Vinkel en koljander. Julle sou saam oud word; saam kla oor julle onmoontlike ouers. Sy het al die kinders se babaklere vir jou gebêre. Jy sou ongeduldig gewees het met haar. “Pull yourself towards yourself, Zet. Terwille van Nick, Sofia en Daniel.” Ek het probeer met my beste Missie-stem, maar dit het nie dieselfde effek nie. Dit sal tyd vat, sê mense. Ek hoop hulle is reg, maar ek weet nie hoe nie.
Wanneer ek alleen is verkyk ek my aan jou foto’s. Ek drink elke gelaatstrek in totdat my hart pyn. Ek verstaan nie waarom jy so swaar moes kry nie. Tenmiste is jy nou veilig. Dit is werklik die enigste troos vir my.
Tot weersiens, my liewe, liewe kind.

